More Stories

Friedel en haar biologiese moeder se storie……….

(Ek is na 43 jaar met my biologiese moeder herenig)

Friedel Smith en haar biologiese moeder Yvonne Thiart

Biologiese moeder (Yvonne Thiart) vertel…..

Om te voel hoe jou ses weke oue baba uit jou arms gevat en vir ewig weggeneem word, is seker een van die traumatiese ervarings wat ‘n ma kan hê.  “Maar vandag kan ek sê al daardie jare se hartseer en nagte se stilletjies huil sodat niemand uitvind nie, was dit werd, want die Here het my dogter vir my teruggegee,  Ek moes destyds as ‘n jong ongehude moeder van 19 my baba dogtertjie laat aanneem nadat ek haar vir ses weke in die Tehuis vir Ongehude moeders self versorg het. ‘n Mens kan nie vir iemand vertel hoe dit is om jou baba weg te gee nie. Toe ek na 43 jaar weer my dogter omhels, was dit daardie prentjie van die dag toe hulle haar uit my arms geneem het wat by my bly flits het. Ek kan nie vir die Here ophou dankie sê dat hy na al die jare my kind vir my teruggegee het nie. Om ‘n kindjie af te gee, is erger as die dood, want die dood is ten minste finaal, maar jy hou nooit op met wonder oor jou kind nie. Ek het pas drie maande voor ek met my dogter herenig is, my man aan die dood afgestaan weens kanker.  Ek wil vir elke moeder wat ook al ‘n baba moes apgee vir aanneming vra, gaan soek na jou kind, dit is die wonderlikste gevoel om na soveel jare te weet jy het destyds jou kind gegee vir ‘n egpaar wat hom of haar as hul eie groot gemaak het en altyd van jou (hul ma) vertel het en jy weet jou kind het ‘n goeie kinderlewe gehad en is nie kwaad vir jou nie.

Friedel Smith van Dewetsdorp vertel…..

Ek is in 1961 aangeneem en het as ‘n gelukkige dogtertjie by my aanneem ouers in Vryburg groot geword.  Nadat ek dertig geword het, het die verlange baie erg geraak na my biologiese moeder. Ek het my aanneem ouers daarvan vertel en my aanneem moeder het dadelik aangebied om my te help om na my biologiese ma te soek. Ek het vir baie jare tevergeefs gesoek en het nie geweet waar om verder aan te klop nie. My aanneem ouers is ook later albei oorlede en steeds het ek gesoek. Verjaarsdae en Kerstye het gekom en gegaan en ek het besluit om dit ‘n saak van gebed te maak. Ek het altyd gewonder of my ma ooit aan my dink wanneer ek verjaar en wonder hoe ek lyk, waar ek is ensovoorts.

Ek het uiteindelik gehoor van Leonie Erasmus in Kleinmond wat al verskeie ma’s met hul kinders herenig het na aanneming.  Omdat ek vir soveel jare gesoek en alles probeer het om my moeder te vind, het ek natuurlik nie veel hoop gehad dat Leonie haar sal kan opspoor nie, maar na net een week het sy my gebel met die wonderlike nuus SY HET MY MA OPGESPOOR!! Ek het regtig ontsettend min inligting gehad vir haar om te gebruik om my moeder op te spoor, maar sy het die regte kanale gevolg en sommer gou al die inligting bekom wat nodig was.  Die Tehuis waar ek aangeneem is, kon slegs basiese inligting oor my moeder aan my verskaf, geen identifiserende inligting nie.

Toe Leonie my bel met die wonderlike nuus, het ek so gebewe. Binne ‘n kort rukkie het ek al my familie en vriende van die wonderlike nuus vertel, want hulle het dag vir dag saam met my deur hierdie uitmergelende wag proses gegaan en my ondersteun. Dit was die wonderlikste dag van my lewe, ek sal God vir ewig dankbaar wees vir hierdie groot geleentheid om my eie ma te kon ontmoet. Ek het in die proses ook drie broers ryker geword!  Die dag toe ek my ma ontmoet, was my senuwees op, ek het gewonder hoe dit sou wees om die vrou wat 43 jaar gelede aan my geboorte geskenk het te kon vashou en sê ek is lief vir haar, sy het vir my ‘n geleentheid gegee om ook twee wonderlike ouers te kon hê wat self nie ‘n baba kon hê nie. Vir hulle was ek ‘n baie groot geskenk. Ek sal hulle altyd koester en as my ouers beskou, ek het net nog ‘n moedertjie by gekry waarvoor ek ontsettend lief is.. Die dag van die ontmoeting was ongelooflik en is ook op film vasgelê. Die hele Barkley-Wes was ook in rep en roer oor hierdie moeder wat haar kind na soveel jare ontmoet het.

Dewetsdorp is ‘n klein dorpie en hierdie storie van my en my ma wat na 43 jaar herenig is, het soos ‘n veldbrand versprei. Daar is glad by die skool waar my man ‘n onderwyser is ‘n koek en tee gereël vir ma en dogter met baniere en als! Vandag nog – 5 jaar later, is ek en my ma baie geheg aan mekaar en het ‘n fantastiese verhouding. Die een kan letterlik nie sonder die ander een funksioneer nie. Ek wil elke ma en kind aanmoedig om te soek. Dit is absoluut die moeite werd. Nou weet ek waarheen ek oppad is, want ek weet nou waar ek vandaan kom. Ek en my ma het uiteindelik “closure” gekry en dank God hiervoor.

______________________________________________________________________________

Amore se storie. Haar biologiese moeder is al 4 jaar gelede opgespoor, maar wou nie met haar kontak maak nie…………..

Vier jaar gelede het iemand my vertel van Leonie Erasmus in Kleinmond wat al vir jare biologiese moeder en aangenome kinders opspoor. Ek het haar opgewonde gebel en het besluit om dadelik ook na my moeder te soek.  Op 34 jarige ouderdom was dit vir my belangrik om uit te vind wie die vrou is wat aan my geboorte geskenk het. Ek wou weet wie sy is, hoe sy lyk en hoekom sy besluit het om my vir aanneming op te gee.

Leonie het dadelik begin met die opsporing en het my binne ‘n week laat weet dat sy my biologiese moeder opgespoor het.  Ek was SO opgewonde, ek kon dit vir die wêreld uit gil!! Ongelukkig wou my biolgiese moeder nie met my kontak maak nie omdat haar broers, susters en selfs haar ouers nie weet van my bestaan nie.  Sy is nou ‘n getroude vrou met twee kinders en haar man en kinders weet ook nie van my nie.  Dit was vir my verskriklik om weer hierdie geweldige verwerping te ervaar.  Vir dae was ek so hartseer en bitter seer hier binne in my hart.  Die ma vir wie ek so graag eendag wou ontmoet – wil niks van my weet nie!  Hoe verstaan ‘n mens dit?  Leonie het my voorberei op alle moontlikhede en ook dat my biologiese moeder dalk nie meer lewe nie en ek was heeltemal voorbereid op enige uitkoms, maar steeds het dit vir my gevoel of iemand my met ‘n emmer koue water gegooi het.

Ek het Leonie gesoebat van maand tot maand dat sy nog net eenkeer weer my ma moet bel en vertel dat ek binnekort trou en haar SO graag op die gelukkigste dag van my lewe daar wil hê om dit met my te deel, maar tevergeefs. My ma het nou nie eers uitgevra oor my nie….  Steeds het ek probeer verstaan.  Sy is seker maar net so ‘n hardekop soos ek en sal seker maar later van plan verander, het ek gedink, maar niks het in die volgende jaar en ‘n half gebeur nie.  Toe ek uitvind ek is swanger met ‘n tweeling, het ek weer vir Leonie gevra om my ma te bel en vra of daar tweelinge in haar familie is – sy het net laat weet dat haar een niggie ‘n tweeling het en weer niks gevra oor my nie.  Vir my was dit ‘n bitterpil om te sluk en ek was van vooraf baie hartseer.  Hoe kan ‘n ma nie eers worry oor haar eie kind nie, al het sy haar opgegee vir aanneming?  Dit bly haar vlees en bloed, het ek oor en oor gewonder.  Die ergste van alles was dat sy nie eers enige emosie getoon het oor sy self nou ‘n ouma van ‘n tweeling gaan word nie, dit is tog ‘n baie groot gebeurtenis in elke ouma se lewe?  Dit is haar heel eerste kleinkinders!

My tweeling is gebore, die pragtigste kinders en ‘n groot geskenk vir hul ma en pa. Nou dat ek self ‘n ma is, is dit vir my nog moeiliker om te verstaan hoe enige iemand ‘n baba kan weg gee.  Natuurlik het omstandighede my ma gedwing om haar kind op te gee, maar om darem jou kind heeltemal uit jou lewe te vee is so wreed.  Steeds sal ek so dankbaar wees as sy my net wil ontmoet of selfs net eenkeer met my wil praat oor die telefoon of net ‘n ou briefie van haar met ‘n fototjie van haar sal vir my ook ‘n tipe van vertroosting bring.

Nou 4 jaar later is my hele lewe van voor af deurmekaar. Ek het uitgevind dat my biologiese moeder self ‘n tweeling NA my gehad het en hulle ook opgegee het.  Sy het egter later met hulle kontak gemaak en hulle selfs in haar huis ontvang, maar sy sien nie kans om haar eersgebore dogter te ontmoet nie.  Haar familie, man en kinders hoef nie eers te weet as sy met my kontak sou maak nie, maar sy sien net eenvoudig nie hiervoor kans nie.  Tot vandag het ek steeds niks van haar gehoor nie. Sy het ook nog nie eenkeer oor my of my kinders navraag gedoen nie.

Ek is nie kwaad vir haar nie en ek hoop en bid dat sy tog eendag met my sal kontak maak.  Wie weet, dalk is dit net vir haar onmoontlik.  Hoe steek ‘n mens emosies weg voor jou man en kinders as jy kontak moet hê met jou kind wat jy laat aanneem het sonder dat jy hulle daarvan kan of wil vertel?  Ongelukkig moes sy reeds voor sy getrou het hierdie groot geheim met haar man gedeel het, maar sy het nie en nou is dit baie moeilik.  Sy is dalk bang sy word verwerp.  Vir my sal sy egter steeds die ma wees wat aan my geboorte gegee het.  Ek sal geduldig wag – by God is niks onmoontlik nie.  Dit is net baie seer om te weet jou eie ma wil steeds na soveel jare nie iets met jou te doen hê nie.  Ek sukkel om dit te verwerk en kan dit nie genoeg beklemtoon dat ek nie haar lewe deurmekaar wil krap nie, ek wil haar net ontmoet en liefhê.  Ek weet diep in haar moederhart is sy beslis ook lief vir my.

Ek wil moeders smeek om asseblief nie jou kind te verwerp as hy of sy jou eendag weer opspoor nie.  Dit is baie, baie seer…

More Stories >>>> read more>>>

site updated February 2016
visits/besoekers